Hierdie week se tekste:
- Johannes 15:1-8
- Handelinge 8:26-40
- Psalm 22:25-31
- 1 Johannes 4:7-21
Johannes 15:1-8
Die ware wingerdstok
1“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”
Handelinge 8:26-40
Filippus en die Etiopiër
26’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is ‘n stil pad.
27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.
‘n Ontmande Etiopiër wat ‘n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”
30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”
31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”
Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:
“Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word;
en soos ‘n lam wat stil is as hy geskeer word,
het Hy nie sy mond oopgemaak nie.
33In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie.
Wie sal van sy nageslag kan vertel?
Sy lewe op aarde word beëindig.”
34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”
35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.
36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”
38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.
40Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.
Psalm 22:25-31
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,
en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.
1 Johannes 4:7-21
God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.
God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.