Hierdie week se tekste:
- Deuteronomium 18:15-20
- Psalm 111
- 1 Korintiërs 8:1-13
- Markus 1:21-28
Deuteronomium 18:15-20
‘n Profeet soos Moses
15“Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. 16Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer ‘n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’17“Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg. 18Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. 19Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie. 20’n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van ‘n profeet wat in die naam van ander gode praat.’ 21Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? 22moet jy weet: as ‘n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”
Psalm 111
Die werke van die Here is groot
1Prys die Here!
Met my hele hart wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade laat ervaar,
Hy het aan hulle die land van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd stand.
1 Korintiërs 8:1-13
Die vraag oor vleis wat aan ‘n afgod geoffer is
1En nou julle vraag oor vleis wat aan ‘n afgod geoffer is.
Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. 2As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ‘n mens behoort te hê nie. 3Maar as iemand God liefhet, ken God hom.
4Wat nou betref die eet van vleis wat aan ‘n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. 5En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, 6is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.
7Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit ‘n offer aan ‘n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. 8Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. 9Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ‘n aanleiding tot sonde word nie. 10As jy wat hierdie kennis het, in ‘n afgodstempel gaan eet en iemand met ‘n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? 11Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit ‘n broer vir wie Christus gesterf het. 12Deur so teen die broers te sondig en ‘n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. 13Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.
Markus 1:21-28
Die besetene in Kapernaum
(Luk. 4:31-37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.
23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ‘n man wat van ‘n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”
25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”
26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”
28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.