Leesrooster 27-11-22

Hierdie week se tekste:

Eerste Sondag van Advent – Jaar A

  • Jesaja 2:1-5
  • Psalm 122
  • Romeine 13:11-14
  • Matteus 24:36-44

Jesaja 2:1-5

1Die woord wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is in verband met Juda en Jerusalem.
2In die laaste dae sal die berg
van die Here se huis
stewig staan as die hoogste
van die berge;
hy sal bo die heuwels uittroon.

Al die nasies sal daarheen stroom;
3baie volke sal gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here
na die huis van die God van Jakob,
sodat Hy ons van sy paaie kan leer,
en ons sy weë kan volg.”
Ja, uit Sion sal daar onderrig kom,
en die woord van die Here uit Jerusalem.
4Hy sal regspreek tussen die nasies,
die reg handhaaf vir talryke volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee,
en van hulle spiese snoeimesse.
Nasies sal nie meer die swaard
teen mekaar opneem nie;
hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.
5Huis van Jakob,
kom, laat ons leef
in die lig van die Here.

Psalm 122

1‘n Pelgrimslied. Van Dawid.
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan na die huis
van die Here.”
2Ons voete staan in jou poorte
Jerusalem –
3Jerusalem, gebou as ‘n stad
wat as ‘n eenheid saamgebind is,
4waarheen die stamme optrek,
die stamme van die Here,
soos aan Israel voorgeskryf is
om die Naam van die Here te prys.
5Want daar staan trone vir regspraak,
die trone van die huis van Dawid.
6Bid vir die vrede van Jerusalem:
“Mag dié wat jou liefhet,
rustig leef;
7mag daar vrede wees
by jou verdedigingswal,
rustigheid in jou vestings.”
8Ter wille van my •broers
en vriende sê ek graag:
“Mag daar vrede in jou wees!”
9Ter wille van die huis
van die Here ons God
wil ek die goeie vir jou nastreef.

Romeine 13:11-14

11Boonop ken julle die bestemde tyd – dat die uur reeds daar is om uit die slaap wakker te word – ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het. 12Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis  en trek die wapenrusting van die lig aan.

13Kom ons leef betaamlik, soos in die dag – nie met gefuif en dronkenskap nie, nie met ontug en losbandigheid nie, nie met rusie en afguns nie. 14Beklee julle egter met die Here Jesus •Christus; en maak nie voorsiening vir julle sondige aard om sy drange te bevredig nie.

Matteus 24:36-44

36“Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. 37Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees.38Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, 39en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees.

40“Dan sal daar twee op die land wees –
een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word.
41Twee sal by die meule maal –
een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word.

42“Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. 43
Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. 44Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”