Hierdie week se tekste
- Job 42:1-6, 10-17
- Psalm 126
- Hebreërs 7:23-28
- Markus 10:46-52
Job 42:1-6; 10-17
Job: In sak en as
1Daarna het Job vir die Here gesê:
2“Nou weet ek dat U tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”
10Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom ‘n stuk silwer en ‘n goue ring gegee. 12Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ‘n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ‘n vol lewe gehad.
Psalm 126
Verander tog ons lot, Here!
1’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion verander het,
was dit vir ons soos ‘n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.
Hebreërs 7:23-28
22So het Jesus ook van ‘n beter verbond borg geword.
23Daar is ook ‘n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
26Vir ons was so ‘n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ‘n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.
Markus 10:46-52
Jesus genees die blinde Bartimeus
(Matt. 20:29-34; Luk. 18:35-43)
46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ‘n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”
Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”
50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”
52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”
Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.