Hierdie week se tekste:
- Eksodus 1:8 – 2:10
- Psalm 138
- Matteus 16:13-20
- Romeine 12:1-8
Eksodus 1:8-2:10
Die farao probeer die getal van die Israeliete beperk
8Toe ‘n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink ‘n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.”
11Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. 12Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so ‘n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. 13Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete 14en die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen.
15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ‘n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ‘n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ‘n dogter is, mag sy bly lewe.”
17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe.18Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?”
19Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.”20As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword.God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. 21Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee.22Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”
Moses se geboorte en opvoeding
1’n Man uit die stam Levi was met ‘n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en ‘n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ‘n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.5’n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is ‘n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u ‘n vrou gaan roep, ‘n Hebreeuse vrou met ‘n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”
Psalm 138
Die Here is hoog verhewe
1Van Dawid.
Ek wil U met my hele hart loof.
Laat die gode maar hoor;
dit is tot u eer dat ek sing.
2Ek wil na u heilige tempel toe buig
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord bo alles gestel.
3Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor
en my nuwe krag gegee.
4Al die konings van die aarde sal U loof, Here,
wanneer hulle u woord hoor,
5hulle sal sing oor wat die Here gedoen het,
want die mag van die Here is groot.
6Ja, al is die Here hoog verhewe,
Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.
7As die nood my oorval,
hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in:
U strek u hand uit,
u regterhand red my.
8Die Here sal vir my alles goed laat afloop.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
Matteus 16:13-20
Die belydenis van Petrus(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)
13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”
16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.
Romeine 12:1-8
Die nuwe lewe in Christus
1En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die gr ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
3Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.