Leesrooster 27-06-21

Hierdie week se tekste:

  • 2 Samuel 1:1, 17-27
  • Klaagliedere 3:22-33
  • 2 Korintiërs 8:7-15
  • Markus 5:21-43

2 Samuel 1:1, 17-27

Dawid verneem van Saul se dood
1-2Na die dood van Saul, op die derde dag daarna, het daar onverwags iemand uit Saul se kamp by Dawid aangekom. Dawid was toe al twee dae terug in Siklag na sy oorwinning oor die Amalekiete. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het die man voor hom op sy knieë geval en gebuig.

Dawid se klaaglied oor Saul en Jonatan
17Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing. 18Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte.
19“Jou trots, Israel –
op jou hoogtes lê dit verslaan.
Hoe het die helde geval!
20Moet dit nie in Gat vertel nie;
moet dit ook nie bekend maak in Askelon se strate nie,
anders sal die Filistynse meisies bly wees
en die dogters van die heidene jubel.
21Gilboaberge! Offerland!
Nóg dou, nóg reën vir julle!
Waarlik, dáár is die heldeskild besoedel.
Saul se skild – dit is nie met olie ingesmeer nie
22maar met bloed van gesneuweldes,
met vet van helde!
Jonatan se boog – dit het pal gestaan.
Saul se swaard – dit het sy werk goed gedoen.
23Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense –
in lewe en sterwe nie geskei nie.
Hulle was vinniger as arende,
sterker as leeus.
24Israelitiese dogters, julle moet huil oor Saul!
Hy het julle beklee met sierlike klere,
goue sierade het hy daarop laat aanbring.
25Hoe het die helde geval?
In die hitte van die stryd!
Jonatan lê verslaan op die hoogtes.
26Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan.
Jy was baie na aan my hart.
Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.
27Hoe het die helde geval?
Met die wapen in die hand het hulle omgekom!”

Klaagliedere 3:22-33

21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wagop die hulp van die Here;
27dit is goed vir ‘n mensom sy las in sy jeug te dra.
28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
29laat hy hom diep verootmoedig– miskien is daar hoop –
30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.
31Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie;
32as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het,
ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:
33dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

2 Korintiërs 8:7-15

7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.
8Ek gee nie ‘n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.
10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.
13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:
“Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met ‘n bietjie,nie te min nie.”

Markus 5:21-43

Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing(Matt. 9:18-26; Luk. 8:40-56)
21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ‘n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ‘n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”24Hy het saam met hom gegaan. ‘n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.
25Daar was ook ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.
27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”
31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”
32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”
36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”
40Hulle het Hom uitgelag.Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!
42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.