Leesrooster 26-05-24

Sondag 26 Mei 2024

  • Romeine 8:12-17
  • Psalm 29
  • Jesaja 6:1-8
  • Johannes 3:1-17

Romeine 8:12-17

12 Daarom dan, broers, het ons ‘n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. 13 Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. 14Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. 15Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 16 Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Psalm 29

1’n Psalm. Van Dawid.
Gee eer aan die Here, godeseuns!
Gee eer aan die Here
vir sy heerlikheid en krag!
2Gee eer aan die Here
vir die heerlikheid van sy Naam!
Buig in aanbidding voor die Here
in sy glansryke heiligheid.
3 Die stem van die Here
is oor die waters,
die God van heerlikheid laat dit dreun,
die Here is bo die magtige waters,
4die stem van die Here is kragtig,
die stem van die Here is glansryk.
5Die stem van die Here breek seders,
die Here versplinter die seders
van die Libanon.
6Hy laat hulle bokspring soos ‘n kalf,
Libanon en Sirjon
soos jong buffels.
7Die stem van die Here
splyt rotse met vlamme.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe,
die Here laat die woestyn
by Kades bewe.
9Die stem van die Here
laat wildsbokke lam,
dit stroop bosse kaal.
Sy hele paleis sê: “Heerlikheid!”
10Die Here troon oor die vloed,
ja, die Here troon as koning vir ewig.
11Die Here gee krag aan sy volk,
die Here seën sy volk met vrede.

Jesaja 6:1-8

Jesaja se taak as profeet
1 In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. 2 Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4 Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.
5 Ek het gesê:
“Wee my, want ek is verlore!
Want ek is ‘n mens
met onrein lippe,
en by ‘n volk met onrein lippe
woon ek.
Ja, my oë het die Koning,
die Here, Heerser oor alle magte,
gesien.”
6Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. 7 Hy het my mond aangeraak en gesê:
“Kyk, dit het jou lippe aangeraak,
jou sondeskuld het gewyk,
daar is vir jou sonde
versoening gedoen.”
8 Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê:
“Wie sal Ek stuur
en wie sal vir ons gaan?”
Ek sê toe:
“Hier is ek, stuur my!”

Johannes 3:1-17

Jesus se gesprek met Nikodemus
1Daar was ‘n man uit die geledere van die •Fariseërs met die naam Nikodemus, ‘n leier van die Jode. 2Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie. ” 3Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die •koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” 5Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. 6Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie. 8Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” 9Hierop vra Nikodemus Hom: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” 10En Jesus het hom geantwoord: “Jy is dié leermeester van Israel en jy begryp hierdie dinge nie? 11Amen, amen, Ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle ons getuienis nie! 12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van die hemelse vertel? 13En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die •Seun van die Mens. 14En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.”
16Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 17 God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.