- Esegiël 37:1-14
- Psalm 130
- Romeine 8:6-11
- Johannes 11:1-45
Esegiël 37:1-14
1Die hand van die Here was op my. Hy het my deur die Gees van die Here uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. 2Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog!
3Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit.” 4Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. 5So sê my Heer, die Here vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. 6Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” ’ ”
7Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was ‘n geluid net toe ek profeteer – ‘n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. 8Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie.
9Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.” ’ ”
10Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – ‘n buitengewone groot leër! 11Hy sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’
12Daarom, profeteer en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. 13Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. 14Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here.
Psalm 130
1‘n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here.
2My Heer, hoor tog my stem,
laat u ore aandagtig luister
na my smeekbedes.
3As U sondeskuld toereken, Here –
my Heer, wie kan dan staande bly?
4Maar by U is daar vergifnis,
sodat U ontsag afdwing.
5Ek wag op die Here;
my hele wese wag,
en op sy woord vestig ek my hoop.
6My hele wese wag op my Heer,
meer as wagte op die môre,
ja, wagte op die môre.
7Israel, vestig jou hoop op die Here;
want by die Here is troue liefde,
by Hom is volkome bevryding.
8Dit is Hy wat Israel bevry
van al sy sondeskuld.
Romeine 8:6-11
6Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. 7Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.8Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie.
9Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie.
10Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. 11As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
Johannes 11:1-45
1Daar was ‘n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha.
2Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. 3Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” 4En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
5Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. 7Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” 8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” 9En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.”
11Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” 12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” 13Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. 14Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, 15en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” 16Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf.
JESUS BY MARTHA EN MARIA
17Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. 18
Betanië was naby Jerusalem, ongeveer vyftien stadion ver, 19en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. 20Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. 21Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” 23Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” 24Martha sê toe vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.”
25Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; 26en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie.
Glo jy dit?” 27Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld kom.”
28En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” 29Toe Maria dit hoor, het sy haastig opgestaan en na Hom gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Martha Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Maria haastig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg, omdat hulle gedink het sy gaan na die graf om daar te huil. 32Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.”33Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. 34Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” 35
Jesus het begin huil. 36Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!”37Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het,
tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?”
OPWEKKING VAN LASARUS
38Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was ‘n rotsgraf en ‘n groot klip het daarteen gelê.39Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” 40Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” 41Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” 43En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” 44Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met ‘n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”
SAMESWERING TEEN JESUS
(Matt 26:1-5; Mark 14:1-2; Luk 22:1-2)
45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.