Hierdie week se tekste:
Eerste Lydensondag
- Genesis 2:15-17, 3:1-7
- Psalm 32
- Romeine 5:12-19
- Matteus 4:1-11
Genesis 2:15-17, 3:1-7
15 Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16 Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
1 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
2 Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”
4 Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7 Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.
Psalm 32
U het my skuld vergewe
1 ‘n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf word nie,
wie se sonde vergewe word.
2 Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding nie toereken nie
en in wie se gees daar geen valsheid is nie.
3 Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.
4 U hand het dag en nag swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela
5 Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe. Sela
6 Dit is waarom elke gelowige in ‘n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.
7 U is vir my ‘n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing. Sela
8 Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.
9 Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil
wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.
10 Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11 Verbly julle in die Here en juig, regverdiges,
jubel, alle opregtes.
Romeine 5:12-19
Adam en Christus
12 Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13 Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. 14 Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.
Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15 maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16 En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17 Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.
18 Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19 Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word.
Matteus 4:1-11
Die versoeking in die woestyn
(Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)
1 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.
3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
“’n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom. ”
5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:
“Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
“en:
“Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie. ”
7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ”
8 Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”
10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ”
11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.