Leesrooster 26-01-25

  • Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10
  • Psalm 19
  • 1 Korintiërs 12:12-31a
  • Lukas 4:14-21

Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10

1Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek.

5Esra die skrifgeleerde het op ‘n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. 7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.

10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

Psalm 19

Die openbaring van die Here is volmaak
1Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ‘n boodskap uit oor die hele wêreld
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin om sy baan te volg,
is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,
soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

1 Korintiërs 12:12-31a

Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.14Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. 15As die voet sou sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. 16En as die oor sou sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. 17As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? 18Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. 19As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? 20Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.

21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. 28En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? 30Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?

31Lê julle toe op die beste genadegawes.

Lukas 4:14-21

Jesus in Galilea(Matt. 4:12-17; Mark. 1:14-15)
14Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.

Jesus word uit Nasaret verdryf(Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)
16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:
18“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes te verkondig.
Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep
en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur,
19om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”