Hierdie week se tekste:
- Johannes 6:56-69
- Joshua 24:1-18 / 1 Konings 8
- Efesiërs 6:10-20
- Psalm 34:15-22
Johannes 6:56-69
Twyfel onder Jesus se dissipels
60Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” 61Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? 62 Wat dan as julle die •Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. 64Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. 65 Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.”
66Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. 67Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” 68Simon •Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. 69En ons glo en weet dat U die •Heilige van God is. ” 70Jesus het hulle geantwoord: “Het Ek nie julle twaalf uitgekies nie? En tog is een van julle die Duiwel!” 71 Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot, bedoel, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.
Joshua 24:1-18
Verbondsluiting by Sigem
1Josua het al die stamme van Israel in Sigem byeen laat kom. Hy het die oudstes van Israel, hulle hoofde, hulle regters en opsieners opgeroep, en hulle het in die teenwoordigheid van God gaan staan. 2 Josua sê toe vir die hele volk: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Anderkant die Rivier het julle voorvaders in die verre verlede gewoon – Tera, die vader van Abraham en Nahor – en hulle het ander gode gedien. 3Maar Ek het julle voorvader Abraham van anderkant die Rivier af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek. Ek het sy nageslag vermeerder: Ek het aan hom Isak gegee, 4en aan Isak het Ek Jakob en Esau gegee. Ek het vir Esau die bergland Seïr gegee om dit in besit te neem, maar Jakob en sy seuns het afgetrek na Egipte. 5Ek het Moses en Aäron gestuur, en Ek het Egipte met plae getref, soos wat Ek gedoen het, en daarna het Ek julle laat wegtrek. 6 Ek het julle voorouers uit Egipte laat wegtrek, en julle het by die see aangekom. Die Egiptenare het julle voorouers met strydwaens en bemanning agtervolg tot by die Rietsee. 7Hulle het na die Here om hulp geroep, en Hy het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenare. Hy het die see oor hulle laat kom en dit het hulle bedek. Julle het met julle eie oë gesien wat Ek in Egipte gedoen het. Daarna het julle vir ‘n lang tyd in die woestyn gebly; 8 en toe het Ek julle ingebring in die land van die Amoriete, wat oorkant die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle geveg, maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hulle land in besit geneem het. Ek het hulle voor julle verdelg. 9 Toe het Balak, seun van Sippor, die koning van Moab, gereedgemaak en teen Israel geveg. Hy het Bileam, seun van Beor, ontbied om julle te vervloek. 10Ek wou egter nie na Bileam luister nie, en hy het julle toe net geseën. So het Ek julle uit sy hand gered. 11 Julle het toe die Jordaan oorgesteek en by Jerigo aangekom. Die burgers van Jerigo, die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle hand gegee. 12Ek het ‘n vlaag paniek voor julle uit gestuur en dit het hulle, die twee konings van die Amoriete, voor julle uitgedryf. Dit was nie deur julle swaarde en boë nie. 13 Ek het vir julle land gegee waarvoor julle nie hard gewerk het nie, dorpe wat julle nie gebou het nie, waar julle woon, en wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie, maar waarvan julle eet.’
14“ Daarom dan, julle moet ontsag hê vir die Here; dien Hom met opregtheid en getrouheid. Verwyder die gode wat julle voorvaders anderkant die Rivier en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”
16Hierop het die volk geantwoord en gesê: “Nooit sal ons die Here verlaat deur ander gode te dien nie; 17want die Here ons God, Hy is die Een wat ons en ons voorouers uit Egipteland, uit die plek van slawerny, laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens van mag gedoen het. Hy het ons bewaar op die hele pad waarlangs ons gegaan het, en onder al die volke waar ons deurgetrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uitgedryf en die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien, want Hy is ons God.”
Efesiërs 6:10-20
Oproep tot geestelike bewapening
10 Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. 11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. 12 Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. 13Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. 14Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid, 15en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, 16en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. 17Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. 18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges. 19 Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – 20hiervoor is ek ‘n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet.
Psalm 34:12-22
ל LAMED
12Kom, kinders, luister na my,
ontsag vir die Here sal ek julle leer.
מ MEM
13 Wie is die mens wat lewe begeer,
graag jare wil hê
om die goeie te ervaar?
נ NUN
14 Weerhou jou tong van kwaad
en jou lippe daarvan
om bedrieglik te praat.
ס SAMEK
15Vermy die kwaad, en doen die goeie;
soek vrede, en jaag dit na.
ע AJIN
16 Die oë van die Here
is op die regverdiges,
sy ore op hulle hulpgeroep.
פ PE
17Die gesig van die Here
is gerig teen kwaaddoeners
om hulle gedagtenis uit te roei
van die aarde af.
צ TSADE
18Regverdiges roep om hulp
en die Here luister,
uit al hulle benoudhede red Hy hulle.
ק KOF
19Die Here is na aan hulle
wat gebroke harte het;
wie se gees verpletter is, verlos Hy.
ר RESJ
20 ‘n Regverdige ervaar baie teenspoed,
maar uit dit alles red die Here hom.
שׁ SJIN
21Hy beskerm al sy bene;
nie een van hulle word gebreek nie.
ת TAW
22Boosheid veroorsaak
‘n goddelose se dood
en hulle wat ‘n regverdige haat,
sal daarvoor boet;
23die Here red die lewens
van sy diensknegte
en niemand wat by Hom skuil,
sal boet nie.