Hierdie week se tekste:
- Romeine 6:1-11
- Jeremiah 20:7-13
- Psalm 69
- Matteus 10:24-39
Romeine 6:1-11
Dood vir die sonde en lewend vir God
1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? 2Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?
3Of weet julle nie dat ons wat in Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. 5 As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. 6Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. 7 Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. 8As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. 9Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 10Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 11 Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.
Jeremiah 20:7-13
Jeremia se worsteling
7 U het my mislei, Here,
en ek het my laat mislei.
U het my oorweldig,
U het die oorhand gekry.
Ek word uitgelag, die hele dag;
almal dryf die spot met my.
8Want telkens wanneer ek praat,
moet ek dit uitskreeu.
“Geweld en verdrukking!”
roep ek uit.
Ja, die woord van die Here het vir my
tot bespotting en hoon geword,
die hele dag lank.
9 Ek het al gesê:
“Ek sal nie aan Hom dink nie,
nie meer in sy Naam iets sê nie.”
Maar dan word dit in my hart
soos ‘n vuur wat brand,
vasgevang in my gebeente!
Ek het my moeg gemaak
om dit binne te hou,
maar ek kon nie.
10 Ja, ek het die geskimp van baie gehoor:
“Verskrikking aan alle kante!
Neem kennis!
Ons sal dit bekend maak!”
Al my sogenaamde vriende
verwag my val:
“Miskien kan hy mislei word,
sodat ons die oorhand oor hom kan kry
en ons op hom kan wreek.”
11Maar die Here is by my,
soos ‘n vreesaanjaende krygsheld.
Daarom sal my vervolgers tot ‘n val kom;
hulle sal nie die oorhand kry nie.
Hulle sal geheel en al beskaamd staan,
want hulle sal nie slaag nie –
‘n ewige vernedering
wat nie vergeet sal word nie.
12 Here, Heerser oor alle magte,
U wat regverdiges toets,
wat hart en niere deurskou,
laat ek u wraak op hulle sien;
want aan U het ek my regsaak toevertrou.
13Sing vir die Here!
Loof die Here!
Want Hy het die lewe van ‘n behoeftige
gered uit die hand van boosdoeners.
Psalm 69
1Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van Dawid.
2 Verlos my, o God,
want water het tot by my keel gekom.
3Ek het weggesink in diep modder,
en daar is geen vastrapplek nie;
ek het in diep water beland,
en die vloed gaan my meesleur.
4Ek is uitgeput van my geroep,
my keel is al hees.
My oë is vermoeid van wag op my God.
5Meer as die hare op my kop
is hulle wat my sonder rede haat.
Hulle wat my wil vernietig, is ontelbaar,
hulle wat my ten onregte haat.
Wat ek nie geroof het nie,
moet ek nou teruggee.
6O God, U self ken my dwaasheid;
my skuld is nie vir U verborge nie.
7Laat hulle wat op U wag
nie deur my toedoen
beskaamd staan nie,
Here my Heer,
Heerser oor alle magte.
Laat hulle wat U soek
nie deur my toedoen
verneder word nie,
o God van Israel.
8Dit is immers oor U
dat ek bespotting moet verduur,
dat my gesig met skaamte bedek is.
9Ek is vervreem van my broers,
‘n vreemdeling vir my moeder se kinders.
10want die hartstog vir u huis
het my verteer.
Die bespotting waarmee hulle U bespot,
moes ek verduur.
11Toe ek getreur het terwyl ek vas,
is ek bespot.
12Toe ek rouklere aangetrek het,
het ek vir hulle ‘n spotnaam geword.
13Dié wat in die stadspoort sit,
dryf die spot met my,
en die liedjies van dronkaards ook.
14Maar ek rig my gebed tot U, Here,
in ‘n tyd van welwillendheid.
O God, antwoord my
met u betroubare verlossing,
op grond van u oorvloedige
troue liefde.
15Red my uit die modder;
moenie dat ek wegsink nie.
Ek wil vrykom van my haters,
van die diep water.
16Laat vloedwater my nie meesleur nie,
die diepte my nie verswelg nie.
Laat die put nie sy mond
bo my toemaak nie.
17Antwoord my, Here,
want u troue liefde is goed;
draai na my in u groot ontferming.
18Moenie u gesig vir u dienskneg
verberg nie,
want ek is in die nood –
antwoord my gou.
19Bly tog naby my, bevry my lewe;
koop my vry, want ek het vyande.
20U ken self die bespotting,
smaad en vernedering
wat ek verduur;
voor U staan al my teenstanders.
21Bespotting het my hart gebreek,
ek is swak.
Ek het medelye verwag,
maar tevergeefs;
mense om my te troos,
maar ek kon niemand vind nie.
22Hulle het gif in my kos gesit,
en vir my dors het hulle
my asyn laat drink.
23 Mag hulle tafel voor hulle
‘n vangnet word,
‘n valstrik vir hulle vriende.
24Mag hulle oë dof word,
sodat hulle nie kan sien nie.
Laat hulle heupe voortdurend meegee!
25 Stort u verontwaardiging oor hulle uit;
laat u brandende toorn hulle inhaal.
26 Mag hulle kamp verlate wees;
mag daar in hulle tente
geen bewoner wees nie.
27Want dié wat deur U geslaan is,
word deur hulle agtervolg,
en oor die pyn van dié
wat deur U gewond is,
het hulle die monde vol.
28Voeg sondeskuld by hulle sondeskuld,
laat hulle nie toegang hê
tot u •geregtigheid nie.
29 Mag hulle uitgewis word
uit die •boekrol van die lewe;
mag hulle nie saam met
die regverdiges opgeteken word nie.
30Ek is magteloos en verkeer in pyn;
mag u verlossing, o God, my beskerm.
31Ek wil die Naam van God
loof met ‘n lied;
ek wil sy Naam groot maak
met ‘n danklied.
32Dit sal vir die Here
aanneemliker wees as beeste,
as bulle met horings
en gesplete hoewe.
33Die verdruktes sien dit;
hulle sal bly wees.
Julle wat God raadpleeg,
mag julle harte leef,
34want die Here luister
na die behoeftiges;
Hy minag nie sy gevangenes nie.
35Hemel en aarde moet Hom loof,
oseane en alles wat daarin beweeg;
36want God gaan Sion verlos,
Hy gaan die stede van Juda herbou.
Hulle sal daar woon en die land besit.
37Die nageslag van sy diensknegte
sal dit erf;
hulle wat sy Naam liefhet,
sal daarin woon.
Matteus 10:24-39
24 “’n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of ‘n slaaf bo sy eienaar nie. 25Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.”
Wie gevrees moet word
(Luk 12:2-7)
26“Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. 28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan.
29“Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. 30 En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ”
Aanmoediging om Christus te bely
(Luk 12:8-9)
32 “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. 33 Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.”
Verdeeldheid
(Luk 12:51-53; 14:26-27)
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 35Want Ek het gekom om ‘n wig in te dryf,
“ ‘tussen ‘n man en sy vader
en tussen ‘n dogter en haar moeder,
en tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;
36en ‘n mens se vyande
sal sy eie huismense wees.’
37 “Wie sy vader of moeder bo My liefhet,
is My nie waardig nie,
en wie sy seun of dogter bo My liefhet,
is My nie waardig nie.
38 En wie nie sy kruis opneem en My volg nie,
is My nie waardig nie.
39 “Wie sy lewe behou,
sal dit verloor,
en wie sy lewe ter wille van My verloor,
sal dit behou.”