Hierdie week se tekste:
- Genesis 17:1-7, 15-16
- Psalm 22:23-31
- Romeine 4:13-25
- Markus 8:31-38
Genesis 17:1-7, 15-16
Die besnydenis as verbondsteken
1Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:
“Ek is God die Almagtige.
Lewe naby My en wees opreg!
2Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense uit jou laat voortkom.”
3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
4“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees van ‘n menigte nasies;
5jy sal nie meer Abram genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader van baie nasies.
6Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.
7“Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ‘n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”
15God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. 16Ek sal haar seën en vir jou ‘n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”
Psalm 22:23-31
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien, prys Hom!
Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,
en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.
Romeine 4:13-25
Wat belowe is, word deur die geloof verkry
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.
Markus 8:31-38
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Matt. 16:21-23; Luk. 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.
“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”
Om Jesus te volg
(Matt. 16:24-28; Luk. 9:23-27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”