- 2 Samuel 23:1-7
- Psalm 93
- Openbaring 1:4-8
- Johannes 18:33-37
2 Samuel 23:1-7
‘n Verbond vir altyd
1Hier volg die laaste woorde van Dawid:
“Dit is Dawid seun van Isai wat praat.
Dit is ‘n man wat praat, een wat hoog geplaas is,
die gesalfde van die God van Jakob,
die gevierde in die liedere van Israel:
2“Die Gees van die Here het deur my gepraat,
ja, sy woord was op my lippe.
3Die God van Israel het gepraat,
die Rots van Israel het vir my gesê:
‘Hy wat regverdig oor mense heers,
wat regeer in eerbied teenoor God,
4is soos die môrelig as die son opkom
op ‘n oggend sonder wolke;
dit skitter na die reën;
die gras skiet op uit die grond.’
5“God het my koningskap goed gevestig,
Hy het aan my ‘n verbond vir altyd gegee,
behoorlik opgestel en goed bewaar.
Al my hulp, al my vreugde,
dit kom van Hom af.
6Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word;
niemand vat met die hand daaraan nie.
7Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout.
In ‘n vuur brand hulle heeltemal uit.”
Psalm 93
U is van altyd af daar
1Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.
Openbaring 1:4-8
Aanhef van die brief
4Van Johannes.Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Tema van die boek
7Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.Ja, dit is seker!8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Johannes 18:33-37
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”
34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”
35“Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”
36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
37“Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”