Hierdie week se tekste:
- Eksodus 16:2-15
- Psalm 145:1-8
- Matteus 20:1-16
- Filipense 1:21-30
Eksodus 16:2-15
2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”
4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. 5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”
6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”
8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”
9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”
10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”
13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.Die volgende oggend was daar ‘n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.
Psalm 145:1-8
1’n Loflied van Dawid.
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
2Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
3Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
4Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
5van die luister, die heerlikheid van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,
6sodat die mense oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.
7Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig
en oor u reddingsdade jubel.
8Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Matteus 20:1-16
1“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.
2“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ 5Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ 7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.
8“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’
9“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’
13“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’
16“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
Filipense 1:20-30
20Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.
Vermaning tot standvastigheid, eensgesindheid en nederigheid
27Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ‘n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.