Leesrooster 24-07-22

Hierdie week se tekste:

  • Hosea 1:2-10
  • Psalm 85
  • Kolossense 2:6-19
  • Lukas 11:1-13

Hosea 1:2-10

1Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas.
Die Israeliete is ontrou aan die Here
2’n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea.
Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met ‘n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.
3Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea ‘n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak. 5Dié dag sal Ek die leër van Israel vernietig in die Jisreëlvlakte.
6Gomer het weer swanger geraak en sy het ‘n dogter gekry. Die Here het toe vir Hosea gesê:
Noem haar Sonder-ontferming,
want Ek gaan My nie weer oor Israel ontferm
en hulle sonde vergewe nie.
7Maar Ek sal My oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie.
8Nadat sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en ‘n seun gekry. 9Die Here het gesê:
Noem hom Nie-my-volk-nie,
want julle is nie my volk nie
en Ek is nie julle God nie.
‘n Nuwe toekoms vir Israel
10Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: “Julle is Nie-my-volk-nie,” sal vir hulle gesê word: “Julle is kinders van die lewende God.”

Psalm 85

U was goed vir u land
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. ‘n Psalm.
2U was goed vir u land, Here,
U het aan die nageslag van Jakob ‘n nuwe toekoms gegee;
3U het u volk sy sonde nie toegereken nie,
hom al sy skuld kwytgeskeld.
Sela
4U het u woede laat bedaar,
u gloeiende toorn laat afkoel.
5Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser,
moet tog nie langer op ons toornig wees nie!
6Sal U dan altyd vir ons kwaad bly?
Sal U dan u toorn van geslag tot geslag laat voortduur?
7Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak
sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?
8Laat ons u troue liefde belewe,
skenk ons u reddende hulp, Here.
9Ek wil luister na wat God die Here sê,
want sy woord bring vrede vir sy volk,
vir dié wat Hom getrou dien.
Hulle moet net nie weer afdwaal nie.
10Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien:
Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.
11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede sal mekaar omhels;
12trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.
13Die Here sal voorspoed skenk
en ons land sal sy oes gee.
14Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan
en ‘n pad maak vir sy koms.

Kolossense 2:6-19

Waarskuwing teen misleiding
1Ek wil hê julle moet weet hoe sterk ek my beywer vir julle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie. 2My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, 3en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.
4Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie. 5Al is ek nou nie persoonlik daar nie, is ek tog in die gees by julle en is ek bly om te sien dat julle die goeie orde handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig vas staan.
Lewe in verbondenheid met Christus Jesus
6Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, 7in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.
8Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. 9In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. 11Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. 12Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. 13Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
Moenie dat iemand julle mislei nie
16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, 19en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.

Lukas 11:1-13

Onderrig oor die gebed
(Matt. 6:9-15; 7:7-11)
1Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
2En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:
“Vader, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom.
3Gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4en vergeef ons ons sondes,
want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie.”
5Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie …’ 8Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
9“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? 12Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”