Leesrooster 24-04-22

  • Handelinge 5:27-32
  • Psalm 118:14-29
  • Openbaring 1:4-8
  • Johannes 20:19-31

Handelinge 5:27-32

27Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: 28 “Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”
29Petrus en die ander apostels het geantwoord: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

Psalm 118:14-29

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
15Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoenen is ‘n wonder in ons oë!
24Dit is die dag wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God; Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Openbaring 1:4-8

Aanhef van die brief
4Van Johannes.
Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Tema van die boek
7Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.Ja, dit is seker!

8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Johannes 20:19-31

Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Luk. 24:36-49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” 20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.