Leesrooster 23-10-22

Hierdie week se tekste:

  • Lukas 18:9-14
  • Jeremia 14:7-10, 19-22
  • Psalm 84:1-7
  • 2 Timothy 4:6-8, 16-18

Lukas 18:9-14

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.’
13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Jeremia 14:7-10, 19-22

7As ons sondes teen ons getuig, Here,
tree tog op ter wille van u Naam.
Ons het so baie keer van U af weggedraai,
ons het teen U gesondig.
8Hoop van Israel, Redder in tyd van nood,
waarom sou U wees soos ‘n vreemdeling in die land,
soos ‘n reisiger wat net ‘n nag oorbly?
9Waarom sou U wees soos ‘n man wat verskrik staan,
soos ‘n soldaat wat nie in staat is om te help nie?
U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!
10So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal, hulle het hulle nie daarvan weerhou nie. Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings.

19Het U Juda dan heeltemal verwerp?
Walg U vir Sion?
Waarom het U ons getref sonder dat iemand ons genees?
Waarom wag ons dat alles regkom, maar dit gaan nie goed nie,
wag ons op ‘n tyd van verbetering,
maar daar is net rede tot skrik?
20Ons erken dat ons opstandig was, Here,
ons het teen U gesondig.
Ons bely ook die skuld van ons voorvaders.
21Ter wille van u Naam, Here, moet ons tog nie verwerp nie.
Moenie dat die plek waar u magtige teenwoordigheid regeer,
verag word nie.
Dink aan u verbond met ons, moet dit tog nie prysgee nie!
22Is daar onder die nikswerd gode van die nasies
een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee?
Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God?
Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen.

Psalm 84

Hoe lief het ek u woning, Here
1Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. ‘n Psalm.
2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!
3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.
4Selfs ‘n mossie het ‘n nes
en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies
daar by u altare, Here, Almagtige,
my Koning en my God!
5Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is:
hulle hou nie op om U te prys nie.
Sela
6Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind
en graag na u tempel toe gaan.
7Vir hulle gaan daar fonteine oop
wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek
en die vroeë reëns sy seëninge bring.
8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag
totdat hulle voor God in Sion verskyn.
9Here, almagtige God, hoor my gebed,
luister tog, God van Jakob!
Sela
10Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God;
hou u gesalfde onder u sorg.
11Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.
Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God
as om te woon in huise sonder God.
12Die Here God is ons krag en ons beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
13Here, Almagtige,
dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!

2 Timothy 4:6-8, 16-18

6Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. 7Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

16Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! 17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered.
18Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.