- Genesis 45:3-11,15
- Psalm 37:1-11, 39-40
- 1 Korintiërs 15:35-38, 42-50
- Lukas 6:27-38
Genesis 45:3-11,15
1Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”
Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom.
4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.
9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’
15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.
Psalm 37:1-11, 39-40
Laat jou lewe aan die Here oor
1Van Dawid.
Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
2want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.
3Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,
jou reg soos die helder lig van die middag.
7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou
en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie, laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.
9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue in die Here stel,
sal in besit bly van die land.
10Nog ‘n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie;
‘n mens sal hom soek waar hy was,
maar hy sal nie daar wees nie.
11Dié wat nou verdruk word, sal die land besit
en hulle verlustig in hulle welvaart.
39maar die regverdiges word deur die Here gered.
Hy is hulle toevlug in tyd van nood.
40Die Here help hulle en Hy bevry hulle,
Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle,
want hulle skuil by Hom.
1 Korintiërs 15:35-38, 42-50
Die opstandingsliggaam
35Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?36Dis ‘n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. 37En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. 38Maar God gee ‘n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ‘n eie gestalte.
42So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44’n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ‘n natuurlike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam. 45So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. 47Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. 48Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.
50Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.
Lukas 6:27-38
Liefde vir die vyand(Matt. 5:38-48; 7:12a)
27“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; 28seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. 29As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. 30Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. 31Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.
32“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. 33En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. 34En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry.
35Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
Moenie oordeel nie(Matt. 7:1-5)
37“Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.
Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie.
Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.
38Gee, en vir julle sal gegee word:
‘n goeie maat,ingestamp, geskud en propvol,sal hulle in julle hande gee.
Met die maat waarmee julle meet,sal ook vir julle gemeet word.”