Hierdie week se tekste:
- Eksodus 33:12-23
- Psalm 96:1-9
- Matteus 22:15-22
- 1 Tessalonisense 1:1-10
1 Tessalonisense 1:1-10
1 Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.Genade en vrede vir julle!
Die voorbeeld van die Tessalonisense
2 Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3 bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4 Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5 want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6 En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7 So het julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8 Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9 Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10 en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.
Eksodus 33:12-23
12Op ‘n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ 13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ‘n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”
1Matteus 22:15-22
Die vraag oor die betaal van belasting
15Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ‘n vraag in ‘n val te lok. 16Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ‘n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”18Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My ‘n strik? 19Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?” 21“Die keiser s’n,” antwoord hulle.Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” 22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.
PSALM 96
Die Here kom om oor die aarde te heers
1Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here,
sing tot eer van die Here, almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here, prys sy Naam,
verkondig elke dag sy reddingsdade!
3Vertel die nasies van sy mag,
al die volke van sy magtige dade.
4Die Here is groot, al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister straal van Hom uit,krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here om die eer van sy Naam!
Kom na sy voorhowe toe, bring vir Hom offers!
9Buig voor die Here by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.
10Verkondig onder die nasies:
“Die Here regeer;
die wêreld staan vas,
dit wankel nie;
die Here sal die volke regverdig oordeel.”