Leesrooster 22-01-23

Leesroostertekste vir die week:

Derde Sondag na Epifanie (January 22, 2023)

  • Matteus 4:12-23
  • Jesaja 9:1-4
  • Psalm 27:1-9
  • 1 Korintiërs 1:10-18

Matteus 4:12-23

Begin van Jesus se verkondiging
(Mark 1:14-15; Luk 4:14-15)
12Toe Jesus hoor dat Johannes in hegtenis geneem is, het Hy na Galilea teruggekeer. 13Hy het Nasaret verlaat en in Kapernaum by die see gaan woon, in die gebied van Sebulon en Naftali, 14sodat die woorde vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15 “Land van Sebulon
en land van Naftali,
die pad langs die see,
oorkant die Jordaan,
Galilea van die heidene:
16 Die volk wat in duisternis woon
het ‘n groot lig gesien;
vir hulle wat in die gebied
en die skadu van die dood leef,
het ‘n lig opgegaan.”
17Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.”

Jesaja 9:1-4

1 Die volk wat in duisternis ronddwaal,
het ‘n groot lig gesien;
hulle wat in ‘n stikdonker land woon –
oor hulle het ‘n lig geskyn.
2 U het die nasie vermeerder,
U het hulle vreugde groot gemaak.
Hulle ervaar vreugde voor U,
soos die vreugde in die oestyd,
soos dié wat juig
wanneer hulle buit verdeel.
3 Want die las van hulle juk
en die hout oor hulle skouers,
die stok van hulle slawedrywer,
het U verpletter
soos op die dag van Midian.
4Ja, elke stewel
wat stamp met ‘n gedreun,
en elke kledingstuk
wat in bloed gerol is,
is bestem vir verbranding,
is kos vir die vuur.

Psalm 27:1-9

1Van Dawid.
Die Here is my lig en my redding –
vir wie sal ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe –
vir wie sal ek bang wees?
2As kwaaddoeners op my toesak
om my lewendig te verslind,
ja, my teenstanders en my vyande,
struikel hulle self en val.
3Al sou ‘n leër teen my laer opslaan,
sal my hart nie bang wees nie;
al sou ‘n oorlog teen my uitbreek,
sal ek nogtans bly vertrou.
4Een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek bly nastreef:
om al die dae van my lewe
in die huis van die Here te woon,
om die lieflikhede van die Here
te aanskou en daaroor
na te dink in sy •tempel.
5Ja, Hy steek my weg
in sy skuiling op ‘n dag van onheil;
Hy verberg my in die beskutting
van sy tent;
Hy tel my hoog op ‘n rots.
6Daarom is my kop hoog
bo my vyande rondom my.
Ek wil met uitroepe van vreugde
offers bring in sy tent,
ek wil sing,
ek wil die Here besing.
7Luister tog, Here, na my stem
wanneer ek roep,
wees my genadig en antwoord my!
8My hart eggo u woorde:
“Julle moet my teenwoordigheid
opsoek!”
U teenwoordigheid, Here,
soek ek op.
9Moet u gesig
nie vir my verberg nie,
moet u dienskneg
nie in toorn wegwys nie.
U was my Helper,
moet my nie verstoot of verlaat nie,
God wat my red.

1 Korintiërs 1:10-18

Verdeeldheid in die gemeente
10Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus •Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. 11My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. 12 Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Apollos, ” of, “Ek van Sefas, ” of: “Ek van Christus”. 13Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, 15sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Ek het wel die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie van iemand anders wat ek gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie.

Christus as krag en wysheid van God
18 Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God.