Leesrooster 21-08-22

  • Jeremia 1:4-10
  • Psalm 103:1-8
  • Hebreërs 12:18-29
  • Lukas 13:10-17

Jeremia 1:4-10

Jeremia word tot profeet geroep

4Die woord van die Here het tot my gekom:

5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord,

“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7Toe sê die Here vir my:

Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.

Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,

en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.

8Moenie vir hulle bang wees nie,

want Ek is by jou, Ek sal jou red.

Dit is wat die Here gesê het.

9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak

en vir my gesê:

Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

Psalm 103:1-8

Onverganklik is die liefde van die Here

1Van Dawid.

Ek wil die Here loof,

met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2Ek wil die Here loof

en nie een van sy weldade vergeet nie.

3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,

wat al my siekte genees,

4wat my red van die graf

en my met liefde en ontferming kroon,

5wat my die goeie in oorvloed laat geniet,

my die jeugdige krag van die arend skenk.

6Die Here laat geregtigheid en reg geskied

aan almal wat verdruk word.

7Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak,

aan Israel wat Hy van plan was om te doen.

8Barmhartig en genadig is die Here,

lankmoedig en vol liefde.

Hebreërs 12:18-29

18Julle het immers nie gekom by ‘n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs ‘n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ‘n verterende vuur.

Lukas 13:10-17

Jesus genees ‘n gebreklike vrou op die sabbatdag

10Eenkeer op ‘n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. 11Daar was ook ‘n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ‘n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”

13Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.

14Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop ‘n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”

15Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? 16En hier is ‘n vrou, ‘n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”

17Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.