Hierdie week se tekste:
- Jeremia 23:1-6
- 2 Samuel 7:1-14
- Psalm 23
- Efesiërs 2:11-22
- Markus 6:30-34, 53-56
Jeremia 23:1-6
Die regverdige koning
1Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here. 2Daarom, so sê die Here die God van Israel oor die herders wat my volk moet versorg: Julle het my skape uitmekaargejaag en verstrooi, julle het hulle nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf vir al die verkeerde dade wat julle gedoen het, sê die Here. 3Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word. 4Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie, sê die Here.
5Daar kom ‘n tyd, sê die Here,
dat Ek vir Dawid ‘n regverdige spruit sal laat opskiet,
‘n koning wat verstandig sal regeer.
Hy sal die reg eerbiedig
en regverdig regeer in sy land.
6In sy tyd sal Juda gered word
en sal Israel veilig woon.
Sy naam sal wees:
Die Here regeer regverdig oor ons.
2 Samuel 7:1-14
Dawid wil vir die Here ‘n huis bou
(Vgl. 1 Kron. 17:1-27)
1Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ‘n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ‘n tent.”
3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”
4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ‘n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ‘n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ‘n huis wat met sederhout versier is nie?’
8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ‘n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ‘n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ‘n vader wees en hy sal vir My ‘n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty.
Psalm 23
Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat my by ‘n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ‘n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees in die huis van die Here
tot in lengte van dae.
Efesiërs 2:11-22
Een nuwe mensheid
11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.
19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.
Markus 6:30-34, 53-56
Die twaalf apostels kom terug
(Matt. 14:13-14; Luk. 9:10-11; Joh. 6:1-4)
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”
32Hulle het met ‘n skuit na ‘n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ‘n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.
Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Matt. 14:34-36)
53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.
Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.