Leesrooster 20-10-24

  • Job 38:1-7; 34-38
  • Psalm 91:9-16
  • Hebreërs 5:1-10
  • Markus 10:35-45

Job 38:1-7; 34-38

Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My
1Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?

34Kan jy jou stem tot by die wolke hoorbaar maak
sodat stortreën jou oordek?
35Kan jy weerligstrale uitstuur
dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?
36Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku
of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig?
37Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring,
om hierdie waterkruike van die hemel om te keer
38wanneer die grond kliphard is
en daar net groot kluite lê?

Psalm 91:9-16

9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy doodtrap.
14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,”sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Hebreërs 5:1-10

1Elke hoëpriester is ‘n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.
4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af is Ek jou Vader.”
6En op ‘n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Markus 10:35-45

Die versoek van Jakobus en Johannes(Matt. 20:20-28)

35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”
36“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.
37Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”
38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”
39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”
41Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”