Hierdie week se tekste:
- Genesis 45:1-15
- Psalm 67:1-7
- Matteus 15:10-28
- Romeine 11:1-2a, 29-32
Genesis 45:1-15
Josef sê vir sy broers wie hy is
1Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”
Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’ 12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”
14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.
Psalm 67:1-7
Mag die volke U loof, o God!
1Vir die koorleier: met snarespel. ‘n Psalm. ‘n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,mag Hy tot ons redding verskyn,
Sela
3sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.
Sela
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde moet Hom eer.
Matteus 15:10-28
Wat ‘n mens onrein maak (Mark. 7:14-23)
10Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.”
12Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”
13Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. 14Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ‘n blinde ‘n blinde lei, val altwee in die sloot.”
15Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”16“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. 17“Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? 18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dít is die dinge wat ‘n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ‘n mens nie onrein nie.”
Die Kanaänitiese vrou (Mark. 7:24-30)
21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ‘n bose gees, en dit gaan sleg.”
23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”
24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.
Romeine 11:1-2a
Die oorblyfsel van Israel
1“Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.Beslis nie! Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.
29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.