Leesrooster 20-06-21

Hierdie week se tekste:

  • Job 38:1-11
  • Psalm 107:1-3, 23-32
  • 2 Korintiërs 6:1-13
  • Markus 4:35-41

Job 38:1-11

Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My
1Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?
8Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
9Ek het hom met wolke bedek,
hom met donkerte toegemaak.
10Ek het vir hom perke gestel,
hom agter slot en grendel gesit.
11Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie;
hier is die grens van jou magtige golwe.’
12“Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom?
Weet jy waar die daeraad vandaan kom,
13die daeraad wat lig oor die hele aarde bring
sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?

Psalm 107:1-3;23-32

Let op die Here se dade van trou
1“Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.

23Party het met skepe die see bevaar
en hulle bestaan op die groot waters gemaak.
24Hulle het die werk van die Here ervaar,
sy wonderdade op die diep waters.
25Op sy bevel het ‘n stormwind opgesteek
en die golwe opgejaag.
26Die skepe het hemelhoog gestyg
en na die dieptes afgeduik.
Die bemanning was radeloos van angs
27en het soos dronk mense gesteier en gewaggel;
al hulle seemanskuns het niks gehelp nie.
28Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei.
29Hy het die stormwind stilgemaak,
en die golwe van die see het bedaar.
30Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte.
God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom.
31Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.
32Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering,
Hom prys in die byeenkoms van die leiers.

Markus 4:35-41

Jesus maak die storm stil
(Matt. 8:23-27; Luk. 8:22-25)
35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”
36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar ‘n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”
39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”
Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”
41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

2 Korintiërs 6:1-13

1As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.
3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.
8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes, en tog is ons goed bekend;
as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes, maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.
11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!