- 1 Konings 19:1-15
- Jesaja 65:1-9
- Galasiërs 3:23-29
- Lukas 8:26-39
1 Konings 19:1-15
Elia vlug vir Isebel
1Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. 2Toe het Isebel ‘n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”
3Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. 4Hy self het egter ‘n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
5Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”
6Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ‘n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Die engel het ‘n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”
8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.
9Hy het in ‘n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”
10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”
11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”
Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte.
13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”
14Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”
15Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram.
Jesaja 65:1-9
Ek gaan hulle straf
1Ek het my wil geopenbaar aan ‘n volk
wat nie na My gevra het nie.
Ek het My laat vind deur mense
wat My nie in die gebed gesoek het nie.
Vir ‘n nasie wat My nie aangeroep het nie,
het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!
2Ek het gedurig my hande uitgesteek na ‘n opstandige volk
wat ‘n pad geloop het wat nie goed is nie,
wat hulle eie kop gevolg het.
3Hierdie volk beledig My gedurig in my gesig,
hulle bring soos heidene offers in tuine
en brand wierook op hulle altare.
4Hulle sit tussen die grafte
en bly snags in geheime plekke.
Hulle eet varkvleis,
en daar is onrein vleis in hulle borde.
5Hulle sê: “Bly waar jy is! Moenie naby my kom nie!
Ek is te heilig vir jou!”
Hierdie mense maak My woedend,
hulle laat my toorn losbreek.
6By My staan dit vas:
Ek gaan ingryp,
Ek gaan hulle straf,
Ek gaan hulle straf volgens wat hulle verdien.
7Ek gaan hulle straf oor hulle en hulle voorvaders se sondes,
sê die Here.
Hulle het wierook gebrand op die berge
en My beledig op die heuwels.
Ek gaan hulle straf vir hulle dade van vroeër,
volgens wat hulle verdien.
8So sê die Here:
Wanneer ‘n druiwetros nog sap het,
sê die mense: “Moet dit nie weggooi nie,
want dit het nog nut.”
So sal Ek doen ter wille van my dienaars,
Ek sal hulle nie almal verwerp nie.
9Ek sal aan Jakob ‘n nageslag gee,
aan Juda ‘n nageslag wat my bergland sal besit.
Dié wat Ek uitverkies het, sal dit in besit neem,
my dienaars sal daar woon.
Galasiërs 3:23-29
23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.
26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.
Lukas 8:26-39
‘n Besetene word van bose geeste bevry
(Matt. 8:28-34; Mark. 5:1-20)
26Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. 27Toe Jesus daar aan wal gaan, het ‘n man van ‘n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het ‘n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in ‘n huis gebly nie, maar tussen grafte. 28Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”
29Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was ‘n bose gees wat hom al baie keer beetgepak het. Al het hulle hom met hand- en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.
30Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”
“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. 31Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.
32Daar het ‘n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, 33en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.
34Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. 35Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. 36Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. 37Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.
38Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”
Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.