Hierdie week se tekste:
- Johannes 15:26-27; 16:4b-15
- Handelinge 2:1-21
- Psalm 104:24-34, 35b
- Romeine 8:22-27
Johannes 15:26-27; 16:4b-15
26“Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af aan julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet ook getuig, omdat julle van die begin af by My is.
16: 1“Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. 2Hulle sal julle uit die •sinagoges ban. Daar kom ‘n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. 3 En hulle sal dit doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en My ook nie. 4Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.”
Werk van die Heilige Gees
“Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was. 5Maar nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het, en nie een van julle vra My, ‘Waarheen gaan U?’ nie. 6 Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. 7Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van •geregtigheid en van oordeel:
9“Van sonde,
omdat hulle nie in My glo nie;
10van geregtigheid,
omdat Ek na die Vader gaan
en julle My nie meer sal sien nie;
11van oordeel,
omdat die heerser van hierdie wêreld
reeds geoordeel is.
12“ Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. 14Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. 15Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.”
Handelinge 2:1-21
Uitstorting van die Heilige Gees
1Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek.
5Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” 12Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” 13Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.”
Petrus se toespraak
14Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig:
17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.
19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rookwolke.
20 Die son sal verander in duisternis
en die maan in bloed,
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21 Dan sal elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, verlos word.’