Hierdie week se tekste:
Verheelikingsondag (Transfiguration Sunday)
- Eksodus 23:12-18
- Psalm 2
- Matteus 17:1-9
- 2 Petrus 1:16-21
Eksodus 23:12-18
Verdere opdragte aan Moses
12 Die Here het vir Moses gesê: “Kom na My toe op die berg en bly daar. Ek sal vir jou die kliptafels gee met die wet, met die opdragte wat Ek geskryf het, om hulle te onderrig.” 13Moses en Josua, sy helper, het gereedgemaak, en Moses het die berg van God uitgeklim. 14Vir die oudstes het hy gesê: “Wag hier vir ons, totdat ons na julle terugkom. Kyk, Aäron en Hur is by julle, en wie ook al regsake het, kan na hulle toe gaan.”
15 Moses het die berg uitgeklim en die wolk het die berg bedek. 16Die heerlikheid van die Here het op die berg Sinai vertoef en die wolk het die berg ses dae lank bedek. Die Here het op die sewende dag uit die wolk na Moses geroep. 17Die heerlikheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos ‘n verterende vuur op die kruin van die berg. 18Moses het in die wolk ingegaan en die berg verder uitgeklim. Moses was veertig dae en veertig nagte lank op die berg.
Psalm 2
1 Waarom is die volke rusteloos
en maak die nasies nuttelose planne?
2 Die konings van die aarde
neem stelling in
en die heersers span saam
teen die Here en sy gesalfde:
3“Kom ons breek hulle boeie stukkend,
kom ons gooi hulle bande van ons af!”
4Hy wat in die hemel sit, lag;
my Heer dryf die spot met hulle.
5Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan,
met sy woede verskrik Hy hulle:
6“Ek self het my koning gesalf
op Sion, my •heilige berg.”
7Ek wil die vaste besluit bekend maak:
Die Here het vir my gesê:
“Jy is my seun,
vandag het Ek jou verwek.
8 Vra dit van My
en Ek sal volke gee as jou erfdeel,
die uithoeke van die aarde
as jou eiendom.
9 Jy sal hulle verpletter
met ‘n ystersepter,
soos erdewerk
sal jy hulle stukkend slaan.”
10Daarom, konings, wees verstandig;
wees gewaarsku, regters van die aarde.
11 Dien die Here met ontsag
en juig Hom toe met bewing!
12Soen die seun,
sodat Hy nie toornig word
en julle op pad omkom nie,
want sy toorn vlam maklik op.
Gelukkig is almal wat by Hom skuil.
Matteus 17:1-9
Verheerliking van Jesus
(Mark 9:2-13; Luk 9:28-36)
1Ses dae later het Jesus vir •Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle teen ‘n hoë berg uitgelei, waar hulle alleen was. 2 Voor hulle het Hy van gedaante verander: Sy gesig het gestraal soos die son, en sy klere het skitterend wit geword soos die lig. 3En kyk, Moses en Elia het aan hulle verskyn en was met Hom in gesprek. 4Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, laat my toe om hier drie hutte te bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” 5Terwyl hy nog praat, het ‘n helder wolk skielik ‘n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, ‘n stem uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” 6Toe die dissipels dit hoor, het hulle op hulle gesigte neergeval, oorval deur vrees. 7Jesus het nader gekom, en nadat Hy hulle aangeraak het, sê Hy: “Staan op en moenie langer bang wees nie.” 8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, behalwe net Jesus self.
9Terwyl hulle teen die berg afgaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie.” 10Die dissipels het Hom gevra: “Waarom sê die skrifkenners dan dat Elia eers moet kom?” 11Hy het geantwoord: “Elia kom inderdaad, en hy sal alles herstel. 12Maar Ek sê vir julle, Elia het reeds gekom, en hulle het hom nie herken nie, maar met hom gemaak soos hulle wou. So moet ook die Seun van die Mens deur hulle toedoen ly.” 13Toe het die dissipels begryp dat Hy met hulle oor Johannes die Doper gepraat het.
2 Petrus 1:16-21
Betroubaarheid van die getuienis
16Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus •Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. 17 Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” 18het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. 19En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. 20Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. 21Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.