- Jesaja 62:1-5
- Psalm 36:5-10
- 1 Korintiërs 12:1-11
- Johannes 2:1-11
Jesaja 62:1-5
Die Here het jou lief
1Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos ‘n nuwe dag,
soos die lig van ‘n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ‘n nuwe naam kry,
‘n naam wat die Here self vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ‘n sierlike kroon in sy hand hou,
jou God sal jou soos ‘n koninklike tulband vashou.
4Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie,
en jou land nie meer die een wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,
”en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos ‘n jong man met ‘n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.
Psalm 36:5-10
5Selfs as hy gaan lê, dink hy net kwaad uit;
hy bly op ‘n pad wat nie reg is nie;
wat sleg is, verwerp hy nie.
6Here, u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke,
7u geregtigheid tot op die hoogste berge,
die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see.
U sorg vir mens en dier, o Here.
8Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
9In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink uit die strome van u goedheid.
10U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.
1 Korintiërs 12:1-11
Die verskeidenheid van geestelike gawes
1Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.
4Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.
7Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te lê. 11Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.
Johannes 2:1-11
Die bruilof in Kana
1Op die derde dag was daar ‘n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.
3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”
4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”
5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”
6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”Hulle het dit tot bo toe volgemaak.
8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”
11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.