- Jeremia 8:18-9:1
- Psalm 113
- 1 Timoteus 2:1-7
- Lukas 16:1-13
Jeremia 8:18-9:1
Ek is in die rou
18 My smart oorweldig my, ek is hewig ontsteld.
19 Hoor hoe benoud roep my volk uit ‘n ver land:
“Is die Here nie meer in Sion nie?
Is Sion se Koning nie meer in hom nie?”
Waarom tart hulle My met hulle afgodsbeelde,
met hulle vreemde nikswerd gode?
20 “Die oes is af, die somer is verby, en ons is nog nie gered nie.”
21 My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. 22 Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ‘n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?
1 Ag, was my kop maar vol water en my oë ‘n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het.
Psalm 113
Prys die Here!
1 Prys die Here!
Prys, dienaars van die Here,
prys die Naam van die Here!
2 Die Naam van die Here moet geloof word,
nou en vir altyd.
3 Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan,
moet die Naam van die Here geprys word!
4 Hoog bo al die nasies heers die Here,
sy mag strek selfs oor die hemele.
5-6 Wie in die hemel of op die aarde
is soos die Here ons God,
wat hoog woon en hier onder alles sien?
7 Die geringe help Hy op uit die stof,
die arme laat Hy van die ashoop af opstaan
8 om hom by vernames te laat sit,
by die vernames van sy volk.
9 Aan die kinderlose skenk Hy ‘n huisgesin,
sy word ‘n gelukkige moeder van kinders.
Prys die Here!
1 Timoteus 2:1-7
Onderrig oor die gebed
1 Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2 vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3 So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6 wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7 Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ‘n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.
Lukas 16:1-13
Die gelykenis van die oneerlike bestuurder
1 Jesus het vir sy dissipels ook gesê: “’n Ryk man het ‘n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het. 2 Hy ontbied hom toe en sê vir hom: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.’ 3 Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my. 4 Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is. 5 Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my werkgewer?’ 6 Hy antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.’ 7 Daarna vra hy vir ‘n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord: ‘Honderd sak koring.’ En hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.’
8 “Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.
9 “En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.
10 “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. 11 As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? 12 As julle met ‘n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
13 “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”