Hierdie week se tekste:
- Spreuke 9:1-6
- Psalm 34:9-14
- Johannes 6:51-58
- Efesiërs 5:15-20
Spreuke 9:1-6
Uitnodiging deur Wysheid
1 Wysheid het haar huis gebou,
sy het haar sewe pilare uitgekap.
2Sy het haar slaggoed geslag,
haar wyn gemeng,
en ook haar tafel voorberei.
3Sy het haar diensmeisies gestuur;
sy roep uit vanaf die hoogste plekke
in die stad:
4“Wie onkundig is,
moet hierheen afdraai!”
Vir dié sonder verstand, het sy gesê:
5“Kom, eet van my brood,
en drink van die wyn
wat ek gemeng het!
6Bly weg van onkundiges, en leef!
Betree die weg van insig!
7 “Wie ‘n spotter vermaan,
haal vir homself skande
op die hals,
en wie ‘n goddelose teregwys,
kry ‘n klad op sy naam.
8Moenie ‘n spotter teregwys nie,
anders haat hy jou;
wys ‘n wyse tereg,
en hy sal jou liefhê.
9Gee aan ‘n wyse,
en hy word nog wyser;
deel kennis mee aan ‘n regverdige,
en sy geleerdheid neem toe.
10 Die begin van wysheid
is ontsag vir die Here,
en kennis van die Heilige is insig.
Psalm 34:9-14
9 Beproef dit en ervaar:
Die Here is goed,
gelukkig is die mens
wat by Hom skuil.
10Julle moet ontsag hê vir die Here,
julle wat aan Hom toegewy is;
want wie vir Hom ontsag het,
ly geen gebrek nie.
11Jong leeus kry swaar en ly honger,
maar wie die Here soek,
ly geen gebrek aan alles wat goed is nie.
12Kom, kinders, luister na my,
ontsag vir die Here sal ek julle leer.
13 Wie is die mens wat lewe begeer,
graag jare wil hê
om die goeie te ervaar?
14 Weerhou jou tong van kwaad
en jou lippe daarvan
om bedrieglik te praat.
Johannes 6:51-58
50Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.”
52Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” 53Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. 55Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. 58Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.”
59Dit het Hy in ‘n •sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het.
Efesiërs 5:15-20
Die lewe deur die Gees
15Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef – nie as onverstandiges nie, maar as wyses. 16Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. 17Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is. 18En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, 19 terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, 20 en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus •Christus dank.