Leesrooster 18-02-24

Hierdie week se tekste:

  • Genesis 9:8-17
  • Psalm 25:1-10
  • 1 Petrus 3:18-22
  • Markus 1:9-15

Genesis 9:8-17

8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit ‘n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer ‘n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”
12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ‘n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”
17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

Psalm 25:1-10

Maak my u weë bekend
1Van Dawid.Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.

1 Petrus 3:18-22

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Markus 1:9-15

Jesus word gedoop(Matt. 3:13-17; Luk. 3:21-22; Joh. 1:29-34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek(Matt. 4:1-11; Luk. 4:1-13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek(Matt. 4:12-17; Luk. 4:14-15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”