Leesrooster 17-11-24

Hierdie week se tekste

  • 1 Samuel 1:4-20; 2:1-10
  • Psalm 16
  • Hebreërs 10:11-25
  • Markus 13:1-8

1Samuel 1:4-20; 2:1-10

4Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. 5Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

Hanna lê ‘n gelofte af
9Op ‘n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.
11Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”
12Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.14Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”
15Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ‘n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16Moet tog nie dink ek is ‘n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”
17Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.”Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. 19Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Samuel
Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. 20By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ‘n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”

Psalm 16

Niks goeds nie behalwe by God
1’n Gedig van Dawid.

Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
3Die afgode in die land, so aantreklik vir baie –
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,
hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Hebreërs 10:11-25

Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.
15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.
Ek sal hulle my wette in die hart gee,
in hulle verstand sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Markus 13:1-8

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word(Matt. 24:1-2; Luk. 21:5-6)
1Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”2Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging(Matt. 24:3-14; Luk. 21:7-19)
3Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: 4“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”
5Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 6Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.
7“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 8Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.