Leesrooster 17-07-22

Hierdie week se tekste:

  • Amos 8:1-12
  • Psalm 52
  • Kolossense 1:15-28
  • Lukas 10:38-42

Amos 8:1-12

Die vierde gesig: ‘n Mandjie vrugte
1Die Here my God het my ‘n gesig laat sien: Daar was ‘n mandjie ryp vrugte, 2en die Here het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? Ek het gesê: “’n Mandjie ryp vrugte.”
Toe sê die Here vir my:
Die tyd is ryp vir my volk Israel,
Ek sal hom nie meer spaar nie.
3Daardie dag sal die sang in die paleis
‘n gehuil word, sê die Here my God.
Daar sal baie lyke wees, oral neergegooi.
Bly liewer stil!
4Luister hierna, julle wat arm mense vertrap,
julle wat die mense in nood in die land wil uitroei.
5Julle sê: “Wanneer is Nuwemaan verby
dat ons koring kan verkoop,
of Sabbat, dat ons ons graanwinkels weer kan oopmaak
en minder graan vir meer geld kan verkoop?
Ons laat die skaal mos kul soos ons wil!”
6Julle verkoop arm mense vir geld,
behoeftiges oor ‘n paar sandale,
julle verkoop selfs die koringkaf.
7Die Here het ‘n eed afgelê by Homself,
by Hom wat die trots van Jakob moes gewees het:
Ek sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie!
8Sal die aarde nie hieroor beef nie,
sal sy bewoners nie treur nie!
Sal die hele wêreld nie in beroering kom soos die Nyl,
wegsak soos die rivier van Egipte nie!
9Daardie dag, sê die Here my God,
laat Ek die son helder oordag ondergaan,
maak Ek dit donker op aarde terwyl dit nog ligdag is;
10Ek verander julle feeste in treurgeleenthede,
julle liedere in klaagsange;
Ek trek vir julle rouklere aan
en skeer al julle koppe kaal;
Ek laat dit word soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur,
julle uiteinde sal vir julle ‘n bitter dag wees.
11Maar daar kom dae, sê die Here my God,
dat Ek ‘n honger oor die aarde laat kom:
‘n honger nie na kos nie, ‘n dors nie na water nie,
maar om die woorde van die Here te hoor.
12Die mense sal ronddwaal van see tot see,
rondslinger van noord tot oos
om die woord van die Here te soek,
maar hulle sal dit nie kry nie.

Psalm 52

God is goed
1Vir die koorleier. ‘n Gedig van Dawid, 2na aanleiding daarvan dat die Edomiet Doëg gekom en aan Saul vertel het: Dawid was in die huis van Agimelek.
3Jy wat jou groot hou,
jy spog verniet oor jou slegte dade!
Onthou, God sorg altyd vir my.
4Jy wil ander se ondergang bewerk,
met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog.
5Jy het die kwaad liewer as die goeie,
en die leuen liewer as die waarheid.
Sela
6Jy saai graag verwarring met jou leuens!
7Maar God sal jou vir altyd vernietig.
Hy sal jou uitruk en wegsleep uit jou woonplek,
Hy sal jou wegruk uit die land van die lewendes.
Sela
8As die regverdiges dit sien,
sal hulle met ontsag vervul word
en smalend van jou sê:
9“Dis nou die man
wat nie op God se krag wou steun nie,
maar op sy eie rykdom vertrou het
en hom sterk wou maak deur inhaligheid.”
10Maar ek staan sterk soos ‘n welige olyfboom;
ek is in die huis van God
en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg.
11Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het.
Voor u dienaars sal ek u Naam prys,
want U is goed.

Kolossense 1:15-28

Die voorrang van die Seun
15Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien kan word nie.
Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
16God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.
19God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel met Homself versoen.

Lukas 10:38-42

Op besoek by Marta en Maria
38Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”
41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”