Hierdie week se tekste:
- Jeremia 31:31-34
- Psalm 51:1-12
- Hebreërs 5:5-10
- Johannes 12:20-33
Jeremia 31:31-34
31Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.
Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
1Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.
3Wees my genadig, o God, in u troue liefde,
wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus regen u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weethoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap en vreugde belewe.
U het my verbrysel; laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ‘n rein hart, o God,
vernuwe my gees en maak my standvastig.
Hebreërs 5:5-10
5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,van vandag af is Ek jou Vader.”
6En op ‘n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.
Johannes 12:20-33
Die tyd van sy verheerliking het gekom
20Daar was ook ‘n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”
22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”
Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”
29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”
30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”
33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.