Leesrooster – 17-01-21

Hierdie week se tekste:

  • 1 Samuel 3:1-10 (11-20)
  • Psalm 139:1-6, 13-18
  • 1 Korintiërs 6: 12-20
  • Johannes 1:43-51

1 Samuel 3:1-10 (11-20)

Die eerste openbaring aan Samuel
1Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie. 2Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê, 3en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was, 4en toe roep die Here na Samuel.Samuel het geantwoord: “Ek kom!”
5Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.” En Samuel het gaan lê.
6Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
7Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie. 8Die Here het Samuel toe ‘n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, 9en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.10Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!”En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”
11Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ‘n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end. 13Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie. 14Daarom bevestig Ek met ‘n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”
15Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis van die Here oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel. 16Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”Hy het gesê: “Ek kom!”
17Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”
18Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie.En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”

Samuel, ‘n betroubare profeet
19Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 20Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here.

Psalm 139:1-6, 13-18

U omsluit my van alle kante
1Vir die koorleier. Van Dawid.
‘n Psalm.Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie
of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.

1 Korintiërs 6: 12-20

Verheerlik God in julle liggame
12Daar is mense wat sê:
“Alles is my geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is my geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar ek gaan my nie deur enigietslaat verslaaf nie.
13Hulle sê ook:“Kos is vir die maag,en die maag vir kos.”
Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. ‘n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.
15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ‘n deel van Christus neem en dit ‘n deel van ‘n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met ‘n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” 17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Johannes 1:43-51

Filippus en Natanael
43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”
44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.
45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”
46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.
47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.”
48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”
49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”
51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”