Leesrooster 16-07-23

Hierdie week se tekste:

  • Jesaja 44:6-8
  • Psalm 86:11-17
  • Matteus 13:24-30;36-43
  • Romeine 8:12-25

Jesaja 44:6-8

Buiten My is daar geen God nie

6So sê die Here, die Koning van Israel,
sy Verlosser, die Here die Almagtige:
Ek is die eerste en Ek is die laaste,
buiten My is daar geen God nie.
7Wie soos Ek is, laat hom dit sê,
laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê;
laat hom ‘n verklaring gee van wat gebeur het
vandat Ek my volk lank gelede gemaak het
en ook van wat sal gebeur;
laat hy vertel van die dinge wat kom.
8Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!
Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig,
dit vir julle gesê nie?
Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My?
Daar is geen ander Rots nie;
Ek weet van geeneen nie.

Psalm 86:11-17

11Leer my u pad, Here,
ek wil wandel in u waarheid;
leer my U met toewyding dien.
12Met my hele hart sal ek U prys, Here my God,
u Naam altyd eer,
13want u liefde vir my was groot:
uit die dieptes van die dood het U my gered.
14Dit is hovaardige mense wat my aanval, o God,
‘n bende geweldenaars wat my wil doodmaak,
mense wat met U nie rekening hou nie.
15U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God,
lankmoedig, vol liefde en trou.
16Sien my, u dienaar van my geboorte af, in genade aan,
gee U my tog krag en red my.
17Maak my ‘n voorbeeld van u goedheid,
sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.

Matteus 13:24-30;36-43

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 
28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’
Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

Romeine 8:12-25

12Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.