Hierdie week se tekste:
- 1 Petrus 1:3-9
- Handelinge 2:14a, 22-32
- Psalm 16
- Johannes 20:19-31
1 Petrus 1:3-9
Die lewende hoop en die egte geloof
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8-9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.
Handelinge 2:14a, 22-32
Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het.
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:“Ek het die Here altyd voor oë.Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.26Daarom is my hart bly en my tong jubel,ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,27want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie;U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.28U het my die paaie van die lewe geleer;u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was ‘n profeet en hy het geweet dat God met ‘n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie,en sy liggaam het nie vergaan nie.32“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.
Psalm 16
Niks goeds nie behalwe by God
1’n Gedig van Dawid.Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U. 2Ek het vir die Here gesê:“Ek behoort aan U,daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. 3Die afgode in die land, so aantreklik vir baie –met hulle wil ek niks te doen hê nie. 4Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef.Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.” 5Here, U is my lewe, U sorg vir my.Wat ek ontvang, kom alles van U af. 6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. 7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. 8Ek het die Here altyd by my:omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.9Daarom is ek bly en juig eken voel ek my veilig.10U gee my nie oor aan die dood nie.U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. 11U leer my hoe om te lewe.By U is daar oorvloedige blydskap.Uit u hand kom net wat mooi is.
Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.