Leesrooster 16-03-25

  • Genesis 15:1-12; 17-18
  • Psalm 27
  • Filippense 3:17-4:1
  • Lukas 13:31-35

Genesis 15:1-12; 17-18

1Ná verloop van tyd het die woord van die Here tot Abram gekom in ‘n visioen:

“Moenie bang wees nie, Abram!

Ek is ‘n skild vir jou.

Jou loon is baie groot.”

2Maar Abram het gesê: “Here, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” 3Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie ‘n nageslag gegee nie. Kyk, ‘n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.”

4Maar kyk, die woord van die Here kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” 5Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” 6Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken.

7Die Here het vir hom gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem.” 8Hy het gevra: “Here, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” 9Toe sê die Here vir hom: “Bring vir My ‘n drie jaar oud verskalf, ‘n drie jaar oud bok, ‘n drie jaar oud skaapram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif.” 10Abram het dit alles vir Hom gebring en middeldeur gesny. Toe plaas hy die dele teenoor mekaar. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. 11Roofvoëls het op die dooie diere toegesak, maar Abram het hulle verwilder.

12Toe die son besig is om onder te gaan, het ‘n diep slaap Abram oorval. Meteens oorval skrik, ‘n groot duisternis, hom.

15Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op ‘n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die •Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie.”

17Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van ‘n oond en die vuur van ‘n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. 18Op daardie dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.

Psalm 27

1Van Dawid.

Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees?

Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees?

2As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind,

ja, my teenstanders en my vyande,

struikel hulle self en val.

3Al sou ‘n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie;

al sou ‘n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou.

4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef:

om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon,

om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor

na te dink in sy •tempel.

5Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op ‘n dag van onheil;

Hy verberg my in die beskutting van sy tent;

Hy tel my hoog op ‘n rots.

6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my.

Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent,

ek wil sing, ek wil die Here besing.

7Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep,

wees my genadig en antwoord my!

8My hart eggo u woorde:

“Julle moet my teenwoordigheid opsoek!”

U teenwoordigheid, Here, soek ek op.

9Moet u gesig nie vir my verberg nie,

moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie.

U was my Helper,

moet my nie verstoot of verlaat nie,

God wat my red.

10Selfs al verlaat my vader en moeder my,

die Here sal my aanneem.

11Here, leer my u pad, lei my op ‘n gelyk pad,

vanweë my vyande.

12Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie;

want vals getuies het teen my opgestaan,

en hulle blaas geweld aan.

13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid

van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie!

14Wag op die Here!

Wees sterk en hou moed,

ja, wag op die Here!

Filippense 3:17-4:1

17Broers, volg dan my voorbeeld,  en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het, 18want baie, van wie ek dit dikwels vir julle gesê het, en nou weer in trane sê, leef as vyande van die kruis van •Christus. 19Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god,  hulle eer is geleë in hulle skande – hulle wat aardse dinge bedink.

20Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag.

21Hy sal ons nederige liggaam verander,

om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam,

deur die krag wat Hom in staat stel  om alles aan Homself te onderwerp.

Lukas 13:31-35

JESUS SE KLAG OOR JERUSALEM

(Matt 23:37-39)

31Juis op dié tydstip het sommige •Fariseërs vir Hom kom sê: “Gaan weg, vertrek hiervandaan, want Herodes wil u doodmaak.” 32Maar Hy antwoord hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals, ‘Kyk, Ek dryf vandag en môre nog demone uit en maak mense gesond, en op die derde dag bereik Ek my doel. 33Maar Ek moet nog vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat ‘n profeet buite Jerusalem omkom nie.’

34Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê,

‘Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here!’”