- Sefanja 3:14-20
- Jesaja 12:2-6
- Filipense 4:4-7
- Lukas 3:7-18
Sefanja 3:14-20
Ek gee aan julle roem en eer
14Sing, Sion! Juig, Israel!
Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!
15Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf,
Hy het jou vyande laat padgee.
Die Koning van Israel, die Here, is by jou;
jy hoef geen ramp meer te vrees nie.
16Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word:
Moenie bang wees nie, Sion,
moenie jou hande moedeloos laat hang nie!
17Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou:
18Ek maak dié bymekaar wat treur,
ver van die feestelikheid af,
dié wat uit jou uit kom
en ter wille van jou die smaad gedra het.
19Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het,
Ek gaan die kreupeles help,
die verstrooides bymekaar maak
en die vernedering wat hulle moes ondergaan,
in eer verander, in roem oor die hele aarde.
20Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom,
maak Ek julle bymekaar
en gee Ek aan julle roem en eer
onder al die volke op aarde;
dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander,
julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.
Jesaja 12:2-6
2God is my redder;
Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie.
Hy is my redder.”
3Met blydskap sal julle water skep
uit die fonteine van redding.
4Op dié dag sal julle uitroep:
“Loof die Here,
roep sy Naam aan,
maak sy dade onder die volke bekend
en verkondig dat sy Naam groot is.
5Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen,
maak dit aan die hele wêreld bekend.
6Jubel en juig, inwoners van Sion,
want groot is die Heilige van Israel
en Hy is by julle!”
Filipense 4:4-7
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Lukas 3:7-18
7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”
13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”
Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.