Leesrooster 15-05-22

  • Handelinge 11:1-18
  • Psalm 148
  • Openbaring 21:1-6
  • Johannes 13:31-35

Handelinge 11:1-18

1Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. 2Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: 3“Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”

4Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: 5“Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering ‘n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos ‘n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. 6Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. 7Ek het toe ‘n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ 8Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’ 9’n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ 10Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.
11“Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. 12Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. 13Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. 14Hy het ‘n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’15“Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. 16Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”

18Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

Psalm 148

1Prys die Here!

Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here prys,
want Hy het beveel en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee,
vir hulle ‘n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem van al sy troue dienaars,
die Israeliete, die volk naby wie Hy is.

Prys die Here!

Openbaring 21:1-6

1Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.3Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”6Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

Johannes 13:31-35

31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”