Leesrooster 15-01-22

Leesroostertekste vir die week:

Tweede Sondag na Epifanie (January 15, 2023)

  • Jesaja 49:1-7
  • Psalm 40:1-11
  • 1 Korintiërs 1:1-9
  • Johannes 1:29-42

Jesaja 49:1-7

Profesieë oor Jerusalem en Sion
1Luister na my, eilande,
gee aandag, afgeleë nasies!
Die Here het my reeds geroep
toe ek in die moederskoot was;
Hy het reeds my naam genoem
toe ek in my moeder se liggaam was.
2 Hy het my mond
soos ‘n skerp swaard gemaak,
in die skaduwee van sy hand
het Hy my weggesteek.
Hy het my ‘n geslypte pyl gemaak,
in sy pylkoker het Hy my versteek.
3 Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienskneg, Israel,
deur wie Ek my heerlikheid toon.”
4 Ek het egter gedink:
Tevergeefs het ek my
moeg gemaak.
Verniet, vrugteloos het ek
my kragte ingespan.
En tog, die beslissing oor my
lê by die Here,
my beloning is by my God.
5Maar nou, die Here het gepraat
– Hy wat my in die moederskoot
al gevorm het as ‘n dienskneg
vir Hom –
sodat ek Jakob na Hom
kan terugbring,
sodat Israel vir Hom
byeengebring kan word.
In die oë van die Here word ek geëer;
my God het my krag geword.
6Hy het gesê: “Dit is nie genoeg
dat jy vir My ‘n dienskneg is
om die stamme van Jakob op te rig nie,
om dié wat bewaar gebly het van Israel,
te laat terugkeer nie.
Ek gee jou as ‘n lig vir nasies,
sodat my heil sal strek tot aan
die uiteindes van die aarde. ”
7So sê die Here, die losser
van Israel, sy Heilige,
aan die sielsveragte,
aan hom wat afstootlik is vir nasies,
aan die dienaar van heersers:
“Konings sal dit sien en opstaan,
ja, vorste,
en hulle sal diep neerbuig –
ter wille van die Here,
Hy wat getrou is,
die Heilige van Israel,
wat jou gekies het.”

Psalm 40:1-11

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. ‘n Psalm.
2 Ek het op die Here bly wag,
Hy het na my afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
3Hy het my opgetrek
uit die put van verderf,
uit die modderige slik.
Hy het my voete op ‘n rotsbank
laat staan,
my voetstappe vastigheid gegee.
4Hy het ‘n nuwe lied in my mond gelê,
‘n lofsang vir ons God.
Baie sal dit sien, en ontsag hê,
ja, hulle sal op die Here vertrou.
5Gelukkig is die mens
wat sy vertroue in die Here stel,
en hom nie wend tot hoogmoediges
en dié wat hulle toevlug neem
tot leuens nie.
6So baie het U, Here my God, gedoen –
u wonders en wat U vir ons
beplan het.
Niemand kan met U vergelyk word nie.
Ek wil dit graag bekend maak,
en daaroor praat,
maar dit is te veel om op te noem.
7 Slagoffers en •graanoffers
is nie wat U wil hê nie –
U het my ore oopgemaak –
•brandoffers en •reinigingsoffers
het U nie gevra nie.
8Daarop het ek gesê:
“Kyk, ek het gekom –
in die •boekrol is oor my geskryf.
9Wat U behaag, my God,
wil ek graag doen;
u wet is in my binneste.”
10Ek het die goeie boodskap van geregtigheid
gebring in ‘n groot byeenkoms,
kyk, my lippe hou ek nie dig nie.
U weet dit self, Here.
11U geregtigheid het ek
nie in my hart verberg nie,
oor u trou en verlossing het ek gepraat.
Ek het nie u troue liefde
en waarheid vir ‘n groot
byeenkoms geheim gehou nie.

1 Korintiërs 1:1-9

1Paulus, deur die wil van God ‘n geroepe •apostel van •Christus Jesus, en die broer Sostenes,
2aan die •gemeente van God in Korinthe, wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here:
3Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
Danksegging
4Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in •Christus Jesus. 5Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. 6Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, 7sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. 8 Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. 9God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here.

Johannes 1:29-42

Jesus die Lam van God
29Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30 Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom ‘n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ 31Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” 32En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos ‘n duif, en Hy het op Hom gebly. 33Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ”
Eerste dissipels
35Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. 36Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” 37Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” 39Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur.
40Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. 41Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. 42Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus.