Leesrooster 14-07-24

Hierdie week se tekste:

  • Amos 7:7-15
  • 2 Samuel 6:1-5, 12-19
  • Psalm 85:8-13
  • Efesiërs 1:3-14
  • Markus 6:14-29

2 Samuel 6:1-5, 12-19

Dawid bring die ark van die Here in Jerusalem in
(Vgl. 1 Kron. 13:1-14; 15:1 – 16:3)
1Dawid het al die uitgesoekte manne in Israel bymekaargemaak, dertig afdelings. 2Hy het klaargemaak en saam met die hele leër na Baäla in Juda toe gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is. 3Hulle het die ark van God op ‘n nuwe wa gelaai en dit weggevat uit die huis van Abinadab op die heuwel. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die wa 4waarop die ark van God was, gedrywe. Agjo het voor die ark geloop. 5Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.
6Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 7Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. 8Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het, en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.
9Dawid het daardie dag bang geword vir die Here en gesê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?”
10Hy het nie kans gesien om die ark van die Here by die Dawidstad te laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was. 11Die ark van die Here het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.
12Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.”
Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 13Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf geoffer. 14Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan. 15Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.
16Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.
17Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer. 18Toe hy klaar geoffer het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here die Almagtige. 19Hy het aan die hele volk, die ganse menigte van Israel, man en vrou, elkeen ‘n ringbrood, ‘n bietjie dadels en ‘n handvol rosyntjies laat uitdeel.
Hierna is almal huis toe, 20en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.

Amos 7:7-15

Die derde gesig: ‘n Skietlood
7Hy het my ‘n gesig laat sien: Die Here het by ‘n loodregte muur gestaan, en daar was ‘n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “’n Skietlood.”
Toe sê die Here vir my:
Ek gaan ‘n skietlood aanlê
in my volk Israel,
Ek gaan hom nie meer spaar nie.
9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,
die heiligdomme van Israel sal in puin gelê word,
en Ek sal met die swaard optree
teen die koningshuis van Jerobeam.
Amos en Amasia
10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ‘n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”
12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”
14Amos het toe vir Amasia geantwoord: “Ek is nie so ‘n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. 15Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.
16“Hoor dan nou die woord van die Here! Jy sê ek moenie as profeet optree teen Israel nie, ek mag nie as siener teen die nageslag van Isak praat nie. 17Maar so sê die Here:
“Jou vrou sal ‘n prostituut word in die stad,
jou seuns en jou dogters sal met die swaard afgemaai word,
jou grond sal tussen ander verdeel word,
jy sal in ‘n onrein land sterf,
en Israel sal in ballingskap weggevoer word
uit sy land uit.”

Psalm 85:8-13

8Laat ons u troue liefde belewe,
skenk ons u reddende hulp, Here.
9Ek wil luister na wat God die Here sê,
want sy woord bring vrede vir sy volk,
vir dié wat Hom getrou dien.
Hulle moet net nie weer afdwaal nie.
10Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien:
Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.
11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede sal mekaar omhels;
12trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.
13Die Here sal voorspoed skenk
en ons land sal sy oes gee.

Efesiërs 1:3-14

Lof aan God vir sy genade
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Markus 6:14-29

Die dood van Johannes die Doper
(Matt. 14:3-12; Luk. 3:19-20)
17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”
19Herodias het daarna ‘n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ‘n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ‘n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.
21Op ‘n dag het Herodias ‘n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ‘n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”
23Daarby het hy dit herhaaldelik met ‘n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”
24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”
Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”
25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ‘n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”
26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ‘n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in ‘n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.
29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.