Hierdie week se tekste:
- Romeine 5:1-11
- Eksodus 19:2-8
- Psalm 100
- Matteus 9:35-10:8
Romeine 5:1-11
Die vrug van die vryspraak
1God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
Eksodus 19:2-8
Die Israeliete kom by Sinaiberg
1Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom. 2Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg. 3Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:“So moet jy vir die nageslag van Jakob sê,vir die Israeliete vertel:4“ ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”7Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.8Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”
Psalm 100
Dien die Here met blydskap
1’n Dankpsalm.
Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
2Dien die Here met blydskap!Kom voor Hom met gejubel!
3Erken dat die Here God is:Hy het ons gemaak en ons is Syne,ons is sy volk, sy eie kudde.
4Gaan sy poorte binne met dankliedere,sy tempel met lofsange,dank Hom, prys sy Naam,
5want die Here is goed,aan sy liefde is daar geen einde nie,sy trou duur van geslag tot geslag.
Matteus 9:35-10:8
Die groot oes
35Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.36Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. 37Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. 38Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”
Jesus stuur die twaalf uit
1Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.2Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; 3Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; 4Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.