Leesrooster 14-04-24

Hierdie week se tekste:

  • Handelinge 3:12-19
  • Psalm 4
  • 1 Johannes 3:1-7
  • Lukas 24:36b-48

Handelinge 3:12-19

Petrus se toespraak in die Pilaargang van Salomo
11Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is. 12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:
“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ‘n moordenaar begenadig moet word. 15So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.
17“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

Psalm 4

U alleen laat my veilig woon
1Vir die koorleier: met snarespel. ‘n Psalm van Dawid.
2O God wat aan my reg verskaf,
antwoord my as ek roep.
Toe ek in die nood was,
het U my bevry.
Wees my ook nou genadig
en hoor my gebed!
3Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense,
gaan julle valsheid liefhê
en voorkeur gee aan leuens?
Sela
4Besef tog dat die Here wonders gedoen het
vir dié wat aan Hom getrou is.
Die Here hoor as ek na Hom roep.
5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;
dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,
en laat dit daarby!
Sela
6Julle moet die offers bring
wat aan julle voorgeskryf is,
en julle moet op die Here vertrou.
7Daar is baie wat sê:
“Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?”
Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons!
8U het my reeds groter vreugde laat belewe
as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het.
9Nou sal ek onbesorg gaan lê
en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my veilig woon.

1 Johannes 3:1-7

1Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.
2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.
4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.
7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

Lukas 24:36b-48

Jesus verskyn aan die dissipels
(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Joh. 20:19-23; Hand. 1:6-8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”
37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.
41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”
42Hulle gee Hom toe ‘n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”
45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ 48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”