Leesrooster – 13-12-20

Hierdie week se tekste:

  • Jesaja 61:1-11
  • Psalm 126
  • 1 Tessalonisense 5:16-24
  • Johannes 1:6-8, 19-28

Jesaja 61:1-11

Eer in plaas van smart

1Die Gees van die Here my God het oor my gekom;
die Here het my gesalf
om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood,
Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur,
om vir die gevangenes vrylating aan te kondig,
vryheid vir dié wat opgesluit is,
2om aan te kondig dat die tyd gekom het
waarop die Here genade betoon,
die dag waarop ons God sy vyande straf
maar almal wat treur, vertroos,
3die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur,
eer gee in plaas van smart,
vreugde in plaas van droefheid,
blydskap in plaas van hartseer.
Hulle sal genoem word: Bome van Redding.
Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.
4Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou,
plekke herbou wat lankal verlate lê,
hulle sal verwoeste stede weer opbou,
plekke wat geslagte lank verlate lê.
5Uitlanders sal in julle diens wees en julle kleinvee oppas,
vreemdes sal in julle lande en julle wingerde werk.
6Julle sal genoem word: Priesters van die Here,
Dienaars van ons God.
Julle sal van die rykdom van die nasies geniet,
die trotse eienaars word van hulle besittings.
7In plaas van vernedering sal julle twee keer soveel besittings hê as tevore,
in plaas van minagting sal julle lof ontvang
oor wat julle besit.
Julle sal in julle land twee keer soveel besit as tevore
en julle sal altyd vreugde hê.
8Ek is die Here, Ek het die reg lief,
Ek haat roof en misdaad.
In my trou sal Ek my volk gee wat Ek beloof het,
Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit.
9Hulle afstammelinge sal bekend wees onder die nasies,
hulle nakomelinge onder die volke.
Almal wat na my volk kyk, sal besef
dat hulle ‘n volk is wat deur die Here geseën is.10Ek is baie bly oor die Here,
ek juig oor my God,
want Hy het my gered,
vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op,
soos ‘n bruid met haar juwele aan.11Soos die grond plante laat uitspruit,
soos die plante in ‘n tuin vrugte gee,
so gee die Here my God die oorwinning
en laat Hy al die nasies luister na die loflied tot sy eer.

Psalm 126

Verander tog ons lot, Here!
1’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion verander het,
was dit vir ons soos ‘n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

1 Tessalonisense 5:16-24

Laaste opdragte

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.
23Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.
25Broers, bid ook vir ons.26Groet al die medegelowiges met ‘n soen van Christelike broederskap.
27In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word.
28Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.

Johannes 1:6-8, 19-28

6Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

Die getuienis van Johannes die Doper
19Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”
Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”
21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy.“ Is jy dan die Profeet?”
“Nee!” het hy geantwoord.
22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet ‘n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”
23Hy antwoord toe:
“Ek is die een wat in die woestyn roep:
Maak die pad vir die Here reguit.”
Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.
24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”
26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”
28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.