Hierdie week se tekste:
- Maleagi 4:1-2
- Psalm 98
- 2 Tessalonisense 2:3-13
- Lukas 21:5-19
Maleagi 4:1-2
1 Die dag kom
en hy brand soos ‘n oond.
Dié wat teen God in opstand is,
almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees,
en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom,
sê die Here die Almagtige.
Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.
2 Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam,
sal die son van redding skyn
met genesing in sy strale.
Julle sal vry word en bokspring
soos vetgemaakte kalwers.
Psalm 98
Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here
1’n Psalm.
Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.
2Die Here het sy oorwinning bekend gemaak,
aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.
3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.
4Juig tot eer van die Here, almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
6Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here, die Koning.
7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.
2 Tessalonisense 2:3-13
3Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. 4Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.
5Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6En julle weet nou wat hom nog teëhou, sodat hy eers as dit sy tyd is, sy verskyning sal maak. 7Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees, 8en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.
9Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaardgaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders 10en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 11Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. 12En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.
Aan God die dank
13Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo.
Lukas 21:5-19
Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Matt. 24:1-2; Mark. 13:1-2)
5Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6“Alles wat julle sien – daar sal ‘n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”
Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Matt. 24:3-14; Mark. 13:3-13)
7Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”
8Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”
10Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.
12“Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om van My te getuig. 14Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.”