Leesrooster 13-10-24

Hierdie week se tekste:

  • Job 23:1-9, 16-17
  • Psalm 90:12-17
  • Hebreërs 4:12-16
  • Markus 10:17-31

Job 23:1-9, 16-17

Job: Wat God wil, doen Hy
1Toe het Job weer gepraat:
2“Ek kla nog steeds uit opstandigheid,
ek kan nie ophou kla nie.
3As ek maar geweet het waar om God te vind,
sou ek na sy woonplek toe gaan
4en my saak voor Hom lê,
my pleidooie aan Hom stel.
5Ek sou van Hom antwoord probeer kry,
probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.
6Hy sal tog nie met sy groot krag teen my ‘n saak voer nie;
Hy sal my dit nie aandoen nie,
7want dit sou ‘n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit
en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word.
8Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie,
na die weste, ek kry Hom nie.
9Sou Hy in die noorde aan die werk wees,
ek vind Hom nie daar nie,
sou Hy na die suide toe draai,
ek sien Hom nie…

16God het my weerstand afgebreek,
die Almagtige het my met angs vervul.
17Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie,
in hierdie duisternis wat my oorval het.”

Psalm 90:12-17

12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.
15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

Hebreërs 4:12-16

Die woord as swaard
12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Markus 10:17-31

Die ryk jongman
(Matt. 19:16-30; Luk. 18:18-30)
17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.”
20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”
21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”2
2Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”
24Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.”
26Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”
27Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”
28Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”
29Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, 30of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”