Hierdie week se tekste:
- Matteus 25:1-13
- Amos 5:18-24
- Psalm 70
- 1 Tessalonisense 4:13-18
Matteus 25:1-13
Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies
1“Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. 2Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. 3Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, 4terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. 5Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.6“In die middel van die nag was daar ‘n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ 7Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. 8Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’ 9Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’10“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.11“Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ 12Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’13“Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”
Amos 5:18-24
Die dag van die Here bring donker
18Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here!
Waarom verlang julle na die dag van die Here?
Dit sal donker bring, nie lig nie;
19dit sal wees soos wanneer iemand vir ‘n leeu vlug
en ‘n beer val hom aan,
of soos wanneer iemand tuiskom
en hy leun met sy hand teen die muur
en ‘n slang pik hom.
20Die dag van die Here bring donker, nie lig nie,
net duisternis, nie ‘n ligstraal nie.
21Ek haat, Ek verafsku julle feeste,
Ek het niks aan julle feestye nie.
22Al bring julle vir My brandoffers en graanoffers,
dit is nie vir My aanneemlik nie,
en Ek kyk nie eens na julle maaltydoffers
van vetgevoerde kalwers nie.
23Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing;
Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie!
24Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom,
laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.
Psalm 70
U is my hulp en my redder
1Vir die koorleier. Van Dawid. Ter herinnering.
2Red my tog, o God,
Here, kom my tog gou te hulp!
3Laat dié wat my lewe wil neem,
self in die ellende beland, teleurgestel in hulle verwagting.
Laat dié wat graag my ondergang wil sien,
op die vlug slaan en beskaamd staan.
4Laat dié wat my spot,
padgee omdat hulle self in die ellende beland het.
5Laat almal wat by U hulp soek,
jubel en bly wees oor U,laat dié wat op u hulp staatmaak,
altyddeur sê: God is groot!
6Ek is hulpeloos en arm;
kom tog gou na my toe, o God.
U is my hulp en my redder,
Here, moet tog nie talm nie!
1 Tessalonisense 4:13-18
Die opstanding uit die dood
13Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. 14Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.15Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. 16Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.18Troos mekaar dan met hierdie woorde.